Pretoriase Akademie vir Christelik-Volkseie Hoër Onderwys
Vereniging Ingelyf kragtens Artikel 21 van die Maatskappywet (Registrasienommer 2001/011539/08)




DIE AANSLAG TEEN ONDERWYS IN SUID-AFRIKA


Tydsberekening is van uiterste belang wanneer 'n polemiese saak aangekondig word; wanneer ander faktore die publiek se aandag aflei, kan dit ongesiens gedoen word. Op 1 April 2004 het Professor Kader Asmal by die opening van die kurrikulumontwikkelings-komitee aangekondig:The new higher education curriculum should be based on Karl Marx's theory. 'n Rewolusie is in die Suid-Afrikaanse onderwys afgekondig, terwyl min mense regtig daarop ag geslaan het omdat almal se oë op die verkiesing van 14 April gerig was.
Die totaal van 38 MBA-programme wat deur 27 verskillende instellings aangebied is, is vervolgens op 20 Mei 2004 deur die ANC/SAKP-regime se Raad op Hoër Onderwys (RHO) verminder tot 7 geakkrediteerde en 15 voorwaardelik-geakkrediteerde programme. Internasionaal-erkende instellings, soos Bond Universiteit van Australië en De Montfort Universiteit van Brittanje se MBA-grade is onder die vaandel van kwaliteitsversekering van akkreditasie geskrap. Die onafhanklikheid en akademiese vryheid van universiteite in Suid-Afrika is daarmee finaal die nekslag toegedien en die universiteitswese in Suid-Afrika is omvorm tot Afrikastandaarde.
UNIVERSITEITSWESE IN AFRIKA
Die universiteitswese in Afrika is gegrond op die Europese model; in besonder dan die Britse model, en Suid-Afrika is geen uitsondering nie. Nadat die Britse regering in 1945 sy beleid oor tersiêre instellings in sy kolonies verander het, het die uiversiteite in Afrika as universiteitskolleges begin. Sommige lede van die nuutgestigte universiteitsrade in Afrika het waarskynlik geen of weinig agtergrondkennis van die funksionering van so 'n instelling gehad, maar wou hul invloed uitoefen op die sisteem wat hul toekomstige leiers moes vorm. Dit het konflik veroorsaak. Verdere konflik is aangeblaas deur die kriteria vir universiteitstoelating. Waar sommige kandidate op akademiese gronde voorheen toegang tot Afrika-universiteite geweier is, het hulle wel toelating tot Amerikaanse universiteite verkry.
In 1962 is daar by 'n konferensie van Afrikastate in Tananarive in die Malgassiese Republiek besluit dat die relevansie van die universiteit in Afrika in terme van sy onmiddellike omgewing swaarder moet weeg as sy relevansie in die internasionale akademiese gemeenskap (Posthumus, 1997:5). Hierdie besluit sou ook die Suid-Afrikaanse universiteitswese in die jaar 2004 ernstig raak. Die minister van Onderwys, Me Pandor, verpolitiseer hierdie beleid in Suid-Afrika selfs verder tot 'n verafrikaniseringsdoelwit met enige onderwys-inisiatiewe. Sy gaan selfs so ver om te pleit vir die ontwikkeling van Afrika-tale tot akademiese- en wetenskaplike tale (Durban, 26 Augustus 2004).
AKADEMIESE VRYHEID EN OUTONOMIE
Akademiese vryheid word in artikel 16(1)(d) van die Grondwet gewaarborg as 'n deel van die reg op vryheid van uitdrukking. Die omvorming en erodering van hoër onderwys tot 'n sentraal-beheerde onderwysstelsel laat geen ruimte vir akademiese vryheid nie. Universiteitskampusse kan nie meer self besluite neem oor watter kursusse ingestel gaan word, watter navorsing gedoen gaan word, aan wie kwalifikasies toegeken gaan word, of hoe evaluering gaan plaasvind nie. Die kredietpuntstelsel (na aanleiding van die aantal ure aan 'n kursus gewy) skryf selfs die tyd voor wat 'n persoon aan 'n leereenheid moet bestee en evaluering word voorskriftelik afgewater tot assessering. Daar is selfs sprake van 'n sentrale toelatingskantoor waar studente aangesê sal word in watter studierigting hy/sy mag studeer en by watter kampus. Hierdie proses van verswelging van die wese van akademiese vryheid het planmatig oor 'n paar jaar plaasgevind.
Sedert 1995 is 'n verreikende sistematiese plan vir staatsbeheerde onderwys, en veral vir hoër onderwys, van stapel gestuur. Die plan het ontvou as 'n ideologiese benadering om transformasie in die onderwys te bewerkstellig en dit te ontwikkel tot 'n enkele staatsbeheerde onderwysstelsel. Met een enkele wet, die Wet op Hoër Onderwys, 1997 (soos gewysig in 2003) het die parlement in Suid-Afrika die outonomie van die universiteite in Suid-Afrika vernietig en alle mag in die hande van die minister van Onderwys geplaas. Die private wette wat die basis vir die stigting van die afsonderlike universiteite was en Wet op Technikons wat die onderskeie technikons daargestel het, is deur Wet 101 van 1997 herroep. 'n Ryke geskiedenis van outonome hoër onderwys in Suid-Afrika (soos ontwikkel deur 109 wette en wetswysigings) is daardeur eensklaps beëindig. Die gevolg: In der waarheid EEN UNIVERSITEIT in Suid-Afrika met verskeie kampusse! Soos President Thabo Mbeki dit noem: single institutions within a unified institutional culture (21 Mei 2004: Parlementsopening).
In Oktober 2003 is aangekondig dat sekere universiteite en technikons gaan saamsmelt en op 1 Januarie 2004 het dit in werking getree. Die 36 instellings vir hoër onderwys is tot 21 verminder. Technikons bestaan nie meer nie; dié kampusse staan nou bekend as tegniese universiteite en is by ander kampusse ingelyf. In der waarheid is alle technikons, soos alle universiteite, dus nou net verskillende kampusse van een groot universiteit. Daarmee is akademiese vryheid en institusionele neutraliteit deur die inklusiewe staatsbeheerde onderwysstelsel verswelg.
Die skokkendste van hierdie ontwikkelinge is dat geen instelling amptelik daarteen beswaar aangeteken het nie. Wat duidelik blyk 'n onregmatige samesmelting was, het bloot by die bestuurslede van die universiteite en technikons (wat immers denkende akademici is) verby gegaan. Die doodsvonnis is sonder teenstand aanvaar.
ERODERING VOORTGESIT
Die erodering van hoër onderwys en die vernietiging van die outonomie van instellings vir hoër onderwys was egter nog nie finaal afgehandel nie. 'n Rigtinggewende stap in die ideologiese samebinding, omvorming en totale beheer sou op 20 Mei 2004 volg: die voorskriftelike beperking van MBA-grade wat in Suid-Afrika aangebied word! Die internasionale 12 kriteria soos gebruik deur die European Quality Improvement System (Equis) en die International Association of MBAs (AMBA) is aangevul met 'n verdere kriterium, naamlik Equity.
Pandor verwys voortdurend na die lae vlak van Wiskunde- en Wetenskap-standaarde op skoolvlak (veral van die disadvantaged majority). In dieselfde sin word die vergelyking getref: Equity = Kwaliteit. Hierdie som klop miskien in Afrika-konteks, maar nie teen internasionale standaarde nie. Professor Doug Blackmur, 'n internasionale kenner op die gebied spreek hom onder andere soos volg uit:"... There is much loose talk to the effect that the CHE has examined "the quality of MBAs". This is untrue. All it has done is to examine MBA missions, teaching arrangements, and some governance, equity and assessment matters.... then the degrees can have no value. Effective delivery of the CHE-preferred mission is all that counts. Professor Doug Blackmur spreek hom in sterkste terme uit teen hierdie stelling; nadat hy verskeie uitvoerende poste beklee het met betrekking tot akkreditering en kwaliteitsbeoordeling in Nieu-Zeeland, Australië en Namibië ..... with the government's emphasis on mission diversity in the transformation of South African higher education...." (Blackmur, 2004:1-2).
As daar ooit twyfel bestaan het of akademiese vryheid nog in Suid-Afrika bestaan, dan het hierdie rewolusionêre proses dit finaal die nek ingeslaan. 'n Regering wat besluite neem oor 'n opvoedkundige inrigting se missie, kurrikula, pedagogiek en navorsingsmetodes ontneem so 'n instelling van alle institusionele outonomie en akademiese vryheid.
Die instellings vir hoër onderwys se onafhanklikheid is verder aangetas toe daar gedurende Augustus 2004 begin is met die proses om hulle studentetalle te beperk. Pandor het intussen ook implementering van die Nasionale Plan vir Hoër Onderwys (Februarie 2001) aangekondig waarvolgens inskrywings in geesteswetenskappe tot 40%, besigheids- en ekonomiese wetenskappe tot 30% en wetenskap, ingenieurswese en tegnologie tot 30% beperk gaan word.
SKOOLVLAK
Hierdie sistematiese rewolusionêre proses is ook op skoolvlak voortgesit:
  • Onderrig in die kind se huistaal sal vir die eerste 3 skooljare geskied, terwyl hy/sy opgelei word in die gebruik van Engels, sodat dit uiteindelik die enigste voertaal vir onderrig sal wees gedurende die res van sy/haar opleiding;
  • Verminderde algemene subsidie aan skole om vanaf 2005 "arm skole" kwyt te skeld van verpligte skoolgelde;
  • Vermindering in gesubsidiëerde onderwysersposte (met klem op vorige model C-skole en privaatskole);
  • Inklusiewe onderwys en gevolglike inname van leerlinge met spesiale behoeftes in hoofstroomskole;
  • Uitsprake van Pandor dat aparte seuns- en meisieskole nie leerlinge voorberei vir die diversiteit van die samelewing nie (selfs gerugte dat sy dit wil afskaf);
  • Kritiek teen die kurrikulums van sommige skole "wat kinders oplei om te emigreer", omdat hulle byvoorbeeld Europese tale as vakkeuses aanbied, maar nie Afrikatale nie;
  • Aankondigings van Pandor dat daar "maar nog net" 30 000 onopgeleide en gedeeltelik-opgeleide onderwysers is;
  • Voorskrifte aan skole om leerderondersteuningsmateriaal net deur 'n sentrale koördineerder en net by goedgekeurde verskaffers aan te skaf;
  • Aankondigings dat die Nederlandse en Vlaamse Ministeries van Onderwys gradering van die SA Nasionale Senior Sertifikaat van 'n A-gradering tot 'n C-gradering verlaag het (dus 'n verpligte oorbruggingsjaar en toelatingseksamen on in Europa te studeer).
GEVOLGTREKKING
Die ideologies-gefundeerde rewolusie in die onderwys in Suid-Afrika is met sistematiese en planmatige presiesheid uitgevoer. 20 Mei 2004 was die hoogtepunt met die MBA-fiasko, maar die proses is nog steeds nie afgehandel nie. Dit gaan steeds voort en word op alle vlakke van onderwys en opleiding deurgevoer tot 'n staatsbeheerde, of eerder staatsoorheersde, eenheidsisteem. Onderwys is totalitêr gestruktureerd, akademiese vryheid en outonomie is vernietig, en word deur staatsbeheer as ideologiese verpolitiseerde instrument misbruik tot degradering na Afrika-standaarde. Pandor het dit alles bevestig in haar Nyerere gedenklesing op 9 September 2004: "Die onderwyssisteem in Suid-Afrika is herontwerp aan die hand van gelykheid en herstel tot Afrikastandaarde".
Henry du Plessis
Opleidingsbestuurder
Pretoriase Akademie vir Christelik-volkseie Hoër Onderwys.
3 September 2004