|
Pretoriase Akademie vir Christelik-Volkseie Hoër Onderwys Vereniging Ingelyf kragtens Artikel 21 van die Maatskappywet (Registrasienommer 2001/011539/08)
|
![]() | DIE TOTALE AANSLAG TEEN ONDERWYS IN SUID-AFRIKA
ABSTRACT |
Tydsberekening is van uiterste belang wanneer 'n polemiese saak aangekondig word; wanneer ander faktore die publiek se aandag aflei, kan dit ongesiens gedoen word. Toe daar op 27 Augustus 2004 aangekondig is dat 'n groep Suid-Afrikaners na maande van aanhouding in Zimbabwe vrygespreek is van aanklagte weens hul beweerde betrokkenheid by die beplande staatsgreep in Ekwatoriaal-Guinee, het dit weinig mediadekking geniet. Die rede: die beweerde betrokkenheid van Sir Mark Thatcher by die befondsing van die staatsgreep, en natuurlik terwyl die Olimpiese spele ook nog aan die gang was. So is daar op 1 April deur Professor Kader Asmal by die opening van die kurrikulumontwikkelings-komitee aangekondig: "The new higher education curriculum should be based on Karl Marx theory". 'n Rewolusie is in die Suid-Afrikaanse onderwys afgekondig, terwyl die publiek en die media se aandag net op die komende verkiesing gekonsentreer was.
Die totaal van 38 MBA-programme wat deur 27 verskillende instellings aangebied is, is op 20 Mei 2004 deur die ANC/SAKP-regime se Raad op Hoër Onderwys (RHO) verminder tot 7 geakkrediteerde en 15 voorwaardelik-geakkrediteerde programme. Onder die vaandel van "kwaliteitsversekering" is internasionaal-erkende instellings, soos Bond Universiteit van Australië en De Montfort Universiteit van Brittanje se MBA-grade van akkreditasie geskrap.
Die gevolge hiervan is onder andere dat dié twee hoogaangeskrewe akademiese instellings uit Suid-Afrika onttrek, maar dit is bloot simptomaties van die rewolusie wat in werklikheid op dié datum (20 Mei 2004) in die Suid-Afrikaanse onderwysbedeling, veral op die gebied van hoër onderwys, ontketen is. Die onafhanklikheid en akademiese vryheid van universiteite in Suid-Afrika is daarmee finaal die nekslag toegedien en universiteitswese in Suid-Afrika is omvorm tot Afrikastandaarde.
GESKIEDENIS VAN DIE UNIVERSITEITSWESE IN AFRIKA
Die universiteitswese in Afrika is gegrond op die Europese model; in besonder dan die Britse model, en Suid-Afrika is geen uitsondering nie. Kenmerkend van die model is die tipiese samestelling van die bestuursliggame (die raad, senaat en fakulteitsraad), die toelatingsvereistes vir studente en die behoud van akademiese standaarde. Dit het tot gevolg gehad dat Suid-Afrikaanse universiteite, soos die Britse universiteite, relatief outonoom was ten opsigte van die staat. Veral op die gebied van kurrikulumbeplanning en die neerlê van standaarde het hierdie outonomie na vore gekom; wat dan weer tot uitnemende onderrig en beperkte aantal graduandi gelei het. Met die rewolusie op die gebied van hoër onderwys in Suid-Afrika het hierdie situasie drasties verander.
Daar is reeds 'n lang geskiedenis van die universiteitswese in Afrika waar kampvegters gepleit het dat die tipiese Afrika-universiteit moes wegdoen met die despotiese Europese invloed soos Edward Blyden in 1872. J.E.C. Hayford het vanaf 1911 tot 1920 voorbrand gemaak vir die stigting van 'n universiteit in Wes-Afrika wat studente sou opvoed in die sin van Afrika-nasionalisme. Nadat die Britse regering in 1945 sy beleid oor tersiêre instellings in sy kolonies verander het, het die uiversiteite in Afrika as universiteitskolleges begin. Ashby (1964:3) wys daarop dat Afrika-nasionalisme realiseer as 'n mengsel van lojaliteit teenoor die eie stam en kultuur, en 'n agterdog jeens alle vorme van vreemde invloed.
Sommige lede van die nuutgestigte universiteitsrade in Afrika het waarskynlik geen of weinig agtergrondkennis van die funksionering van so 'n instelling gehad, maar wou hul invloed uitoefen op die sisteem wat hul toekomstige leiers moes vorm. Dit het konflik veroorsaak, omdat die oorwegend blanke personeel die sisteem (vanuit 'n Europese model) moes verdedig. Verdere konflik is aangeblaas deur die kriteria vir universiteitstoelating. Waar sommige kandidate op akademiese gronde voorheen toegang tot Afrika-universiteite geweier is, het hulle wel toelating tot Amerikaanse universiteite verkry. Ashby (1964:10) wys daarop dat die Amerikaansgebore kind van 1945 het 'n kans van 1 uit 3 op universiteitsopleiding gehad, terwyl sy Britse eweknie 'n kans van 1 uit 12 gehad het tot toelating tot 'n universiteit. Uit Afrika-geledere het dit het tot skerp veroordeling van die Britse universiteitstelsel gelei, soos van Nnamdi Azikwe van Nigerië (Kgware, 1978:2).
In 1962 is daar by 'n konferensie van Afrikastate in Tananarive in die Malgassiese Republiek besluit dat die relevansie van die universiteit in Afrika in terme van sy onmiddellike omgewing swaarder moet weeg as sy relevansie in die internasionale akademiese gemeenskap (Posthumus, 1997:5). Hierdie besluit sou ook die Suid-Afrikaanse universiteitswese in die jaar 2004 ernstig raak.
Op 31 Maart 2004 verklaar minister Asmal: ".... we have developed new policies and programmes for identifying values, nurturing lifeskills, addressing racism, promoting multilingualism, removing barriers to learning, restoring history, and understanding the role of religion in our schools." Sy opvolger as minister van Onderwys, Me Pandor, verpolitiseer hierdie beleid selfs verder tot 'n verafrikaniseringsdoelwit met enige onderwys-insisiatiewe. Sy gaan selfs so ver om te pleit vir die ontwikkeling van Afrika-tale tot akademiese- en wetenskaplike tale (Durban, 26 Augustus 2004, infogov/speeches). J.E.C. Hayford het reeds in 1911 tot 1920 voorbrand gemaak vir die stigting van 'n universiteit in Wes-Afrika wat 'die sin vir Afrika-nasionalisme in die studente sou bewaar', maar sy pleidooi dat onderrig aan die universiteite van Wes-Afrika in inheemse tale moes geskied, het net 'n droom gebly. Uitvoering aan Pandor se voorstel sal waarskynlik ook maar net 'n droom bly.
Teen hierdie agtergrond is dit noodsaaklik om kortliks na die kwessie van akademiese vryheid en outonomie van universiteite te kyk.
AKADEMIESE VRYHEID EN OUTONOMIE
Akademiese vryheid word in artikel 16(1)(d) van die Grondwet gewaarborg as 'n deel van die reg op vryheid van uitdrukking. Dit is dus "bewegingsvryheid" binne die raamwerk van akademiese navorsing en ondersoek.
Van Zyl Slabbert (1975:3) wys op die noodsaaklikheid daarvan dat universiteite nie net akademiese vryheid moet geniet (in verhouding tot die staat) nie, maar ook in terme van die ekonomie en die gemeenskap wat sy voedingsbron is. Gevolglik het hierdie instansies nie die reg om voorskriftelik teenoor die universiteit op te tree en sy outonomie aan bande te lê nie. Hy wys verder daarop dat akademiese vryheid en deelnemende demokrasie albei waardes is wat hoog geag word aan die universiteit, maar het toe reeds (feitlik 30 jaar gelede) gewys op die konflik wat soms ontstaan tussen die waardes.
Posthumus (1997:7) toon aan dat die Afrikastudent van vroeër vervreem is van sy gesin en sy stam; dat sy studies hom blootstel aan Westerse waardes en denke, terwyl hy egter ook van tyd tot tyd moet teruggaan na sy stam om die rol te vervul in terme van sy tradisie. Hierdie twee etiese sisteme bring konflik wat tot uitbarsting kan kom en ten minste gedeeltelike verwerping van die universiteitsisteem kan meebring. Hy verwys na gedigte van BW Vilikazi waarin die Zulu-digter sy eensaamheid as Afrika-akademikus verwoord, as voorbeeld van sodanige etiese konflik.
Van Zyl Slabbert (1975:8) onderskei verder tussen universiteitsoutonomie en institusionele neutraliteit. "Onder akademiese vryheid word verstaan die reg van 'n universiteit om self oor personeelaanstellings te besluit, self te besluit watter studente hy toelaat tot sy geledere en om self te besluit oor die gepaste leerstof vir die kursusse wat aangebied word. Akademiese vryheid het te make met interne sowel as eksterne invloede op die universiteit en elkeen van hierdie terreine het sy eie problematiek". Posthumus (1997:8) maan egter: "'n Universiteit se akademiese vryheid kom in gedrang sodra hy, hetsy vanweë eksterne of interne faktore, gedwing word om die een of ander rewolusionêre rol in die gemeenskap te speel".
Indien die begrip rewolusionêr in sy gewone betekenis van opstandig/anders as die bestaande gesien word, watter rol speel die universiteit in Suid-Afrika vandag? Is die universiteit in Suid-Afrika inderdaad nog outonoom/selfstandig?
Die omvorming en erodering van hoër onderwys tot 'n sentraal-beheerde onderwysstelsel laat geen ruimte vir akademiese vryheid nie. Universiteitskampusse kan nie meer self besluite neem oor watter kursusse ingestel gaan word, watter navorsing gedoen gaan word, aan wie kwalifikasies toegeken gaan word, of hoe evaluering gaan plaasvind nie. Die kredietpuntstelsel (na aanleiding van die aantal ure aan 'n kursus gewy) skryf selfs die tyd voor wat 'n persoon aan 'n leereenheid moet bestee en evaluering word voorskriftelik afgewater tot "assessering". Daar is selfs sprake van 'n sentrale toelatingskantoor waar studente aangesê sal word in watter studierigting hy/sy mag studeer en by watter kampus. Hierdie proses van verswelging van die wese van akademiese vryheid het planmatig oor 'n paar jaar plaasgevind.
DIE AANLOOP TOT DIE REWOLUSIE IN HOëR ONDERWYS IN SA
Sedert 1995 is 'n sistematiese en verreikende plan vir staatsbeheerde onderwys, en veral vir hoër onderwys, van stapel gestuur. Die plan het weliswaar ontvou as 'n ideologiese benadering om transformasie in die onderwys te bewerkstellig en dit te ontwikkel tot 'n enkele staatsbeheerde onderwysstelsel. Die Wet op Hoër Onderwys, 1997 spel dit dan ook uit:
Met een enkele wet, die Wet op Hoër Onderwys, 1997 (Wet 101 van 1997, soos gewysig deur Wet 38 van 2003) het die parlement in Suid-Afrika die outonomie van die universiteite in Suid-Afrika vernietig en alle mag in die hande van die minister van Onderwys geplaas. Die private wette wat die basis vir die stigting van die afsonderlike universiteite was en Wet op Technikons wat die onderskeie technikons daargestel het, is deur Wet 101 van 1997 herroep. 'n Ryke geskiedenis van outonome hoër onderwys in Suid-Afrika (soos ontwikkel deur 109 wette en wetswysigings) is daardeur eensklaps beëindig.
Met hierdie enkele wet het die Universiteite van Durban-Westville, Fort Hare, Kaapstad, Natal, die Noorde, Noord-wes, Oranje Vrystaat, Pretoria, Port Elizabeth, Rhodes, Stellenbosch, Suid-Afrika, Transkei, Venda, Wes-Kaap, Witwatersrand, Zululand, die Randse Afrikaanse Universiteit, Mediese Universiteit van Suider Afrika, die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys en alle technikons in Suid-Afrika in der waarheid ophou bestaan. Die gevolg: In der waarheid EEN UNIVERSITEIT in Suid-Afrika met verskeie kampusse! Soos President Thabo Mbeki dit noem: "single institutions within a unified institutional culture" (21 Mei 2004: Parlementsopening).
In Oktober 2003 het Kader Asmal aangekondig dat sekere universiteite en technikons gaan saamsmelt en op 1 Januarie 2004 het dit in werking getree. Die 36 instellings vir hoër onderwys in Suid-Afrika is tot 21 verminder. Technikons bestaan nie meer nie; dié kampusse staan nou bekend as "tegnologiese universiteite" en is ingelyf by ander kampusse. In der waarheid is alle technikons, soos alle universiteite, dus nou net verskillende kampusse van een groot universiteit. Daarmee is akademiese vryheid en institusionele neutraliteit deur die inklusiewe staatsbeheerde onderwysstelsel verswelg.
Hierdie samesmeltings was die gevolg van 'n verslag getiteld "Restructuring of Higher Education Institutions" wat onder voorsitterskap van mnr. Saki Macozoma uitgebring is. Die Kabinet het egter nie die verslag sonder wysigings aanvaar nie. Die finale verslag "A New Institutional Landscape for Higher Education" (Oktober 2003) het laat blyk dat ideologiese oorwegings die swaarste beweegrede vir die finale samesmelting was. So is Fort Hare, as simbool van die stryd teen apartheid, as afsonderlike kampus behou. Die sogenaamde histories Afrikaanse instellings is met histories agtergeblewe instellings afgepaar, maar instellings soos Universiteite van die Witwatersrand en Kaapstad is ongeskonde as afsonderlike kampusse gelaat.
Die skokkendste van hierdie ontwikkelinge is dat geen universiteit amptelik daarteen beswaar aangeteken het nie. Wat duidelik blyk 'n onregmatige samesmelting was, het bloot by die bestuurslede van die universiteite en technikons (wat immers denkende akademici is) verby gegaan. Die doodsvonnis is sonder teenstand aanvaar.
DIE MBA-DEBAKEL
Die erodering van hoër onderwys en die vernietiging van die outonomie van instellings vir hoër onderwys was egter nog nie finaal afgehandel nie. 'n Rigtinggewende stap in die ideologiese samebinding, omvorming en totale beheer sou op 20 Mei 2004 volg: die voorskriftelike beperking van MBA-grade wat in Suid-Afrika aangebied word! Die beperking kan inderdaad as die middelpunt van die rewolusie in die onderwys in Suid-Afrika gesien word; die ommekeer en finale stryd teen (internasionaal) aanvaarde en aanvaarbare standaarde.
'n Onafhanklike studie deur die Financial Mail het kort voor die aankondiging die twee buitelandse MBA's (Bond en De Montford) op hul lys van beste MBA's in Suid-Afrika geplaas (www.careerdynamo.com/s_africa_mba.html). Die internasionale 12 kriteria soos gebruik deur die European Quality Improvement System (Equis) en die International Association of MBAs (AMBA) is egter aangevul met 'n verdere kriterium, naamlik Equity. Professor Eon Smit, direkteur van Stellenbosch se Besigheidskool, het dit verdedig: "...om die onbillikheid van die verlede reg te stel - in studentegroepe sowel as in die rasseprofiel van personeellede" (Smit, 2004:1).
Die minister van Onderwys, Me Pandor het ook haar tevredenheid oor die proses uitgespreek en daarop gewys dat die verbetering van kwaliteit die kern van transformasie en herstruktuering van die instellings vir hoër onderwys moet vorm. President Thabo Mbeki het met die opening van die parlement op 21 Mei 2004 ook daarop gewys dat die samesmeltingsproses van instellings vir hoër onderwys in hierdie finansiële jaar voortgesit gaan word, om te sorg dat hulle in werklikheid "single institutions within a unified institutional culture" word.
Pandor verwys voortdurend na die lae vlak van Wiskunde- en Wetenskap-standaarde op skoolvlak (veral van die "disadvantaged majority"). In dieselfde sin word die vergelyking getref: Equity = Kwaliteit. Hierdie som klop miskien in Afrika-konteks, maar verantwoord nie aan internasionale standaarde nie. Professor Doug Blackmur spreek hom in sterkste terme uit teen hierdie stelling; nadat hy verskeie uitvoerende poste beklee het met betrekking tot akkreditering en kwaliteitsbeoordeling in Nieu-Zeeland (minister van Onderwys se hoof uitvoerende beampte en komiteelid op die New Zealand Quality Assurance), Australië (Australian Qualifications Framework Advisory Board en lid van die Australian Curriculum, Assessment and Certification Authorities Chief Executives), Maleisië (internasionale adviseur vir die National Accreditation Board of Malaysia) en Namibië (regeringsadviseur by die Namibian Qualifications' Authority).
"Stanford University students. Would this prestigious American university have had its MBA approved by the CHE? The world's top-quality MBAs would probably not be accredited by the Council on Higher Education (CHE).... Stanford offers an international MBA. This would not satisfy CHE's requirements that all MBAs be "localised" and all heavily oriented towards local practices.....
....the CHE would probably take exception because its evaluators couldn't "count the books in the library"......
There is much loose talk to the effect that the CHE has examined "the quality of MBAs". This is untrue. All it has done is to examine MBA missions, teaching arrangements, and some governance, equity and assessment matters....
The views of graduates, students and employers on the worth of particular MBA degrees are irrelevant. By definition, if they don't conform to the CHE's prescribed mission and delivery regulations, then the degrees can have no value. Outcomes, such as whether the MBAs are of value to graduates and their employers, or whether graduates can manage organisations in an extremely complex environment, are of minor importance in the CHE scheme of things. Effective delivery of the CHE-preferred mission is all that counts.
..... with the government's emphasis on mission diversity in the transformation of South African higher education.... " (Blackmur, 2004:1-2).
Blackmur, as spesialis op die gebied van internasionale akkreditasie en assessering, bevind egter ook dat SAQA geen wetlike definisie vir 'n meestersgraad het nie en gevolglik ook nog nie standaarde opgestel het waaraan 'n meestersgraad moet voldoen nie. Die vraag kan dus inderdaad gevra word of hierdie optrede van die RHO wettig was? As daar ooit twyfel bestaan het of akademiese vryheid nog in Suid-Afrika bestaan, dan het hierdie rewolusionêre proses dit finaal die nek ingeslaan. 'n Regering wat besluite neem oor 'n opvoedkundige inrigting se missie, kurrikula, pedagogiek en navorsingsmetodes ontneem so 'n instelling van alle institusionele outonomie en akademiese vryheid.
VERDERE GEVOLGE
Reeds in Junie 1997 wys Posthumus (1997:9) daarop dat daar grootskaalse druk op institutionele neutraliteit in die volgende opsigte (gaan) kom:
Al hierdie eise het reeds gemanifesteer. Selfs die Universiteitskampus van Stellenbosch (wat eens aan al die regeringseise voldoen het) het al onder kritiek deurgeloop omdat hy nie aan laasgenoemde eis voldoen nie. Die Kommissie vir Diensbillikheid het, volgens De Lange (2004) die kampus gemaan oor die onderverteenwoordiging van gekleurdes in sy personeelkorps en dat hy gekenmerk word deur 'n oorwegend wit, manlike hiërargie, met onderverteenwoordiging van vroue op senior posvlakke. Die logiese gevolgtrekking sal dan wees (as die som equity = kwaliteit as 'n gegewe geneem word) dat dié kampus daarom nie voldoen aan die kwaliteitstandaard wat deur die regering gestel word nie? Die verslag lui egter ook: "Daar was egter onlangs positiewe ontwikkelinge en daar word verwag dat die pas van transformasie sal verbeter" (De Lange, 2004). Rektor Brink het by geleentheid in 2003 gesê dat die Universiteit van Stellenbosch oor 10 jaar nie meer 'n uitsluitlik Afrikaanse instelling wees nie. Dit is waarskynlik na sulke positiewe ontwikkelinge waarna verwys word, hoewel dit skaars 'n jaar geneem het.
Die instellings vir hoër onderwys se onafhanklikheid is verder aangetas toe daar gedurende Augustus 2004 samesprekings met die onderskeie kampusse gevoer is ten einde hulle studentetalle te beperk. Daar word beplan om voorskriftelik te wees ten opsigte van kampusse se groei in studentegetalle. So is voorgestel dat Stellenbosch-kampus byvoorbeeld volgende jaar met net 3% mag groei, terwyl ander dan net tussen 2% en 3% meer studente mag registreer. Heftige reaksie is reeds vanaf verskeie kampusse uitgespreek, maar die groeipersentasie sal uiteindelik deur die departement se finansieringstabel (wat vanjaar ingestel is) bepaal word.
'n Verdere gevolg is dat Pandor nou sterk begin klem lê op die implementering van die Nasionale Plan vir Hoër Onderwys (Februarie 2001) waarvolgens studente in die verskillende studierigtings ook beperk gaan word. Daarvolgens sal inskrywings in geesteswetenskappe tot 40%, besigheids- en ekonomiese wetenskappe tot 30% en wetenskap, ingenieurswese en tegnologie tot 30% beperk word. Die nasionale navorsingseenheid het dan ook reeds opdrag gekry om te fokus op navorsing in wiskunde en wetenskap en om te verseker dat veral swartes en vroue aangemoedig word om gebruik te maak van hierdie geleenthede.
In die groter kringloop van onderwys en opleiding, het hierdie sistematiese rewolusionêre proses egter ook gesuurdeeg tot alle ander vlakke van opleiding. Enkele drastiese ontwikkelings op skoolvlak is onder andere die volgende:
Die ideologies-gefundeerde rewolusie in die onderwys in Suid-Afrika is met sistematiese en planmatige presiesheid uitgevoer. 20 Mei 2004 was die hoogtepunt met die MBA-fiasko, maar die proses is nog steeds nie afgehandel nie. Dit gaan steeds voort en word op alle vlakke van onderwys en opleiding deurgevoer tot 'n staasbeheerde, of eerder staatsoorheersde, eenheidsisteem.
Dit is egter duidelik dat die ANC/SAKP-regime steeds nie tevrede is met die sogenaamde "vordering" in tranformering nie. Pandor haal Professor Pityana op 10 Augustus 2004 aan: "We have to be troubled by the state of higher education in our country. We have to ask ourselves whether a decade into democracy we are anywhere near a transformed university system. The answer has to be 'No'" (Pandor by die opening van UNISA se viering van 10 jaar van demokrasie). Sy haal Pityana verder aan uit sy Altron toespraak: ".... South African Universities, certainly, have traditionally regarded themselves to be within quite cultural cocoons".
Sy antwoord hierop: "Our challenge is to create an inclusive institutional culture out of these exclusive cocoons. It is pleasing to see the first steps being taken here. The guide that we must use as our litmus test will be institutions that reflect non-racialism, non-sexism, democracy and a unifying culture driven by rigorous intellectual scrutiny".
Die rewolusie is lank nog nie verby nie, terwyl die vaders van die "onafhanklike akademie" hul akademiese vryheid skynbaar goedgelowig prysgegee het, terwyl hulle bloot gesit en toekyk het, wag hulle oënskynlik gelate om seker te maak dat hulle steeds hul subsidies ontvang. Dit is inderdaad laat in die nag: Onderwys is totalitêr gestruktureerd, akademiese vryheid en outonomie is vernietig, en word deur staatsbeheer as ideologiese verpolitiseerde instrument misbruik tot degradering na Afrika-standaarde.
Die vraag wat ontstaan: Wetenskapsbeoefening in Suid-Afrika Qua Vadis? Waarheen moet akademici in Suid-Afrika hulle wend om die akademie, onafhanklike bevordering van die wetenskap en suiwere beoefening van die wetenskap te beskerm? Die ryk tradisie en geweldige kennis wat in Suid-Afrika opgebou is binne die verskillende velde van die wetenskap kan nie verder voortgesit word met 'n opvoedingsisteem onder uitsluitlike staatsbeheer en met staatsinmenging nie. Internasionale universiteite stem hiermee saam en daarom was De Montfort Universiteit nie bereid om aan die Suid-Afrikaanse kriteria te voldoen wat vir hulle onaanvaarbaar was en 'n afgewaterde ("semi-detached") Suid-Afrikaanse graad te skep nie (Lamdin, 2004:2). Ook Bond Universiteit het dit duidelik gestel dat hulle nie bereid is om hulle internasionaal erkende grade en programme te verander om een land tevrede te stel nie (Bailey, 2004: 2).
Die omskrywing van 'n universiteit is: 'n plek of instelling waar tegnologie byeengebring (versamel), verwerk, oorgedra en ontwikkel word (Van der Dussen, 2001:7). Gesien in die voorafgaande bespreking van universiteitsoutonomie, institusionele neutraliteit en akademiese vryheid teenoor die huidige staatsbeheerde universiteitstelsel in Suid-Afrika, kom die dringendheid van die beskerming van hierdie beginsels binne die akademiese veld na vore. Akademiese vryheid was nog altyd een van die grondbeginsels van 'n universiteit se identiteit en hoewel dit nie 'n absolute reg is nie, moet bedreiging daarvan as 'n bedreiging van universiteitswese beskou word. 'n Universiteit wat in absolute terme aan die owerheid (die regering van die dag) onderdanig is, is beslis nie meer vry nie en wetenskapsbeoefening in al sy geledinge kan nie anders as om onder hierdie juk te verbrokkel tot 'n afgewaterde derde-rangse instelling nie.
Enige pogings van privaat instellings om die ideologiese, sistem
atiese vernietiging van die Europese model teen te gaan, kan verwag om met ongenaakbaarheid onderdruk te word. Die intense behoefte bestaan reeds lankal dat enige pogings van instellings wat dit opreg bedoel met wetenskapsbeoefening met krag en daad ondersteun word. Die geweldige potensiaal wat in Suid-Afrika bestaan (akademici, uitvinders, ontwikkelaars en entrepeneurs) om vrye wetenskapsbeoefening uit te bou en fisies vir die nageslag te bewaar kan nie genoeg beklemtoon word nie. Van owerheidskant word pogings dikwels gefnuik om private, onafhanklike instellings vir hoër onderwys op die been te bring. Wetgewing maak selfs voorsiening vir hoë boetes wanneer die indruk net geskep word dat 'n erkende kwalifikasie aangebied word wat nie geakkrediteer is nie.
Die nood word al hoe groter: akademiese instellings word aan Afrika-standaarde gemeet, staatsinmenging dwing studierigtings, metodes en tegnieke af wat nie in internasionale standaarde aanvaarbaar is nie, en kennis gaan verlore, om nie eens te praat van die gebrek aan voortgesette navorsing op grond van die verworwe kennis nie. Die enigste antwoord lê waarskynlik in die skep van privaatinstellings wat wetenskapsbeoefening in al sy geledinge op internasionale standaarde grond. Sou hierdie proses verder binne die leerder se eie identiteit met inbegrip van sy geloofsoortuigings gedoen kan word, dan is die kanse vir sukses net soveel groter. Dit het helaas tyd geword dat nugterdenkende mense in Suid-Afrika, wat dit ernstig het met die voortbestaan en uitbouing van standaarde en glo in die krag van suiwer nagevorsde wetenskaplike resultate, begin insien dat die ideologiese proses sistematies besig is om onderwys en opvoeding in Suid-Afrika te vernietig en te degradeer. As die samelewing eers besef dat markerkenning (en internasionale wetenskaplike erkenning) beter is as owerheidserkenning (wat in elk geval gedegradeer is tot Derde Wêreld-vlak) dan kan die rewolusionêre proses van ommekeer van akademiese vryheid stopgesit word.
Heinrich Matthee op Praag se webtuiste (Opstel 030814):
"By helder kuile van
geskiedenis en chromosoom,
moet ons weer eikebome plant
en nuut oor vryheid droom".
In antwoord daarop: Die hoop beskaam nie; dalk is die eikebome reeds in bot.
Henry du Plessis
Opleidingsbestuurder
Pretoriase Akademie vir Christelik-volkseie Hoër Onderwys.
3 September 2004