Pretoriase Akademie vir Christelik-Volkseie Hoër Onderwys
Vereniging Ingelyf kragtens Artikel 21 van die Maatskappywet (Registrasienommer 2001/011539/08)


Media verklarings
Kontak besonderhede
Voorblad
Artikels

KOMMUNISME VERVANG CHRISTELIKHEID AS NORM

Hoër onderwys sal voortaan op die ideologie van Karl Marx gegrond wees en gebou word. Hierdie boodskap het prof Kader Asmal op 31 Maart 2004 aan opvoedkundiges en ander akademici gebring tydens 'n byeenkoms waarop talle nuwe boeke en geskrifte bekendgestel is wat voortaan die grondslag van onderwysleerplanne op alle vlakke sal wees. Hierdie boeke behels 'n algehele herskryf van die geskiedenis van Suid-Afrika.

Met hierdie uitspraak stel minister Asmal onomwonde as beleid dat Christelike onderwys nie meer aanvaarbaar is en geduld sal word nie. Hy het reeds die kampusse van sy staatsuniversiteit in die holte van sy hand. Dan spreek dit vanself dat private instellings vir hoër onderwys die teiken van hierdie beleidsverklaring is. Uiteraard sal geen leerplan of leerprogram wat Christelike wetenskap voorhou, staatserkenning kry of behou nie.

In 'n skynbaar onbelangrike maar wesenlik venynige aanval op Christelik-nasionale onderwys verklaar Asmal dat die instelling daarvan bygedra het tot die militarisering en polarisering van die samelewing. Net so het volgens hom die instelling van Bantoe-onderwys stelselmatig "our people" ontmagtig en hulle alle geleenthede in die samelewing ontneem. Hy onderstreep hierdie stelling met die woorde: "This we must remember." Die res van sy toespraak, en veral die bekendstelling van die boeke en geskrifte wat van nou af die onderwysnorm word, bevestig sy afkeer van Christelik-nasionale onderwys. Die aanvaarding van Karl Marx as onderwysnorm is sodoende 'n aanslag op die Christendom maar ook op die Afrikaner.

Met sy uitspraak het Asmal die gordyn weggeruk. Daar kan geen twyfel meer wees waarheen hy en die ANC/SAKP met onderwys op pad is nie. Dit plaas op elke gelowige, op elke kerk die verpligting om oor die toestand te besin. Gelowiges weet dat hulle in die geloof meer as oorwinnaars is. Nogtans verg die stryd om behoud van die geloof baie krag. Mag die HERE ons Verbondsgod aan elke gelowige Afrikaner, elke gelowige van watter volk of gemeenskap ookal, die genade skenk om onvoorwaardelik te kies en te stry.

DR P E VAN DER DUSSEN
Besturende Direkteur
7 April 2004