Samewerkingsooreenkoms tussen die PA vir CVHO en TABOK

Die Pretoriase Akademie vir Christelik-volkseie Hoër Onderwys (PA) en die Trust vir Afrikaanse Beheerliggame vir Onderwys en Kultuur (TABOK) het op 5 Augustus 2004 'n werkskomitee in die lewe geroep. Die komitee is getaak om die onderwystoestand omvattend te beoordeel en daarvolgens te beplan om die doelwitte van TABOK as 'n verbesondere weergawe van die breë onderwysdoelwitte vir die Afrikaner na te streef.


Die kernwerkgroep bestaande uit twee lede elk van die PA en TABOK sal leiding gee en koördinering doen, waarop hulle dan weer verslag doen aan die Direksie van die PA en die Trustees van TABOK. Bestuurstaakgroepe sal aandag aan die volgende aspekte gee:

  • Onderwysbeleid en skakeling met owerheidsliggame;

  • Struktuur;

  • Finansiering;

  • Skakeling met binnelandse en buitelandse instellings.

Die opleidingstaakgroepe sal vervolgens aandag aan die volgende vakdissiplines gee:

  • Onderwysersopleiding;

  • Ekonomiese en Bestuurswetenskappe;

  • Inligtingswetenskappe;

  • Regte;

  • Medies.

Ten einde uitdrukking te gee aan hulle doelwitte, wil TABOK dringend aandag gee aan die opleiding van Onderwysers/Geneeshere/Juriste/Veeartse/ander vakkundiges binne die bepaalde etos van die Afrikaanse taal, kultuur, dissiplines en christelike waardes. Daarom voorsien hulle om “twee Afrikaanse enkelmedium Universiteite terug te wen of te skep vir die behoeftes van Afrikaanse studente”.

Die PA is meer as bereidwillig en reeds gereed om tot 'n groot mate te voorsien in die behoefte van hoër opleiding binne die raamwerk van die gestelde etos, hoewel daar nie noodwendig aan hulle behoefte van 'n universiteit voldoen kan word nie. Vanaf owerheidsweë is daar 'n beperking op private instellings om grade en diplomas toe te ken. Dit verhoed egter nie enige instelling om gehalte opleiding aan te bied wat deur die mark erken word nie.

Die PA gaan reeds vanaf 2005 'n Nagraadse Onderwys Afrondingskursus (NOAK) aanbied om te voldoen aan die behoefte van gekwalifiseerde onderwysers. Die teikengroepe is die volgende:

- Gegradueerdes wat nie oor onderwyskwalifikasies beskik nie en huleself juis binne die raamwerk van Christelik-volkseie onderwys in Afrikaans wil kwalifiseer;

- Onderwysers wat vir 'n paar jaar onaktief was en nou gereed is om terug te keer na die onderwys, maar hulleself op die hoogte van die nuuste ontwikkelinge wil bring;

- Pas-gekwalifiseerde onderwysers wat 'n behoefte het om onderlê te word in die beproefde onderrigmetodes binne die konteks van volkseie waardes en standaarde.

Daar word ook beplan om leerders tydens hul studie die geleentheid te bied om hulle kennis en vaardighede verder uit te brei in terme van die huidige kritiese vakgebiede, naamlik Wiskunde, Wetenskap, Rekenaarstudies en Ekonomiese wetenskappe. Die idee is om die onderwyser wat nie in hierdie vakrigtings opgelei is nie, die geleentheid te bied om sy/haar vaardighede in een van hierdie spesifieke vakke sodanig te verbeter ten einde dit op skoolvlak te kan aanbied. (Verdere besonderhede sal eersdaags aangekondig word).

Samesprekings en onderhandelinge op die ander vakgebiede duur voort en daar word voorsien dat opleiding in terme van die ander vakdissiplines ook momentum sal kry; hetsy deur internasionale samewerking en erkenning, of plaaslike markverwante ondersteuning.



Henry du Plessis
Opleidingsbestuurder - PA vir CVHO
30 Augustus 2004