|
Pretoriase Akademie vir Christelik-Volkseie Hoër Onderwys Vereniging Ingelyf kragtens Artikel 21 van die Maatskappywet (Registrasienommer 2001/011539/08)
|

Nuusbrief 2 / 2005
| Skielik besef mens: dit is September! Mag al ons lesers en ondersteuners 'n wonderlike Lente beleef en ook weer God se hand in die skepping ervaar wanneer die bome begin bot en ons wonderlike land weer in 'n groen kombers getooi word! | ||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
1. Nagraadse Onderwysers-afrondingskursus (NOAK)| | Die Julie-eksamens was 'n groot sukses en is met welslae afgelê. Baie dankie aan almal wat gehelp het om die proses vlot te laat verloop. Daar is reeds navrae ontvang vir inskrywings vir volgende jaar en voornemende studente kan vanaf 3 Oktober reeds registreer vir 2006. | | 2. Nuwe kursusse | | Die PA vir CVHO bied vanaf 2006 ook 'n Ekonomiese- en Bestuurskursus, asook 'n Onderwysers-Voorbereidingskursus op voorgraadse vlak aan. Voornemende studente en belangstellendes is welkom om hieroor navraag te doen. Volledige besonderhede sal eersdaags beskikbaar wees en deur middel van poslyste en ons webtuiste bekend gemaak word. | | 3. Kortkursusse | | Die PA vir CVHO het 'n belangrike stap geneem met die ontwikkeling en aanbieding van kortkursusse. Die eerste kortkursus van agt uur oor Konflikhantering deur Skole is op 13 Augustus aangebied. Dit gaan veral oor die wyse waarop beheerliggame en onderwysers enersyds en ouers andersyds so met mekaar skakel dat verskil van mening uitgeskakel word. Verskeie ander kortkursusse oor skoolsake is beskikbaar, onder meer Trauma- en Krisishantering, Vergaderingsprosedure, Verbale kommunikasie en Algemene Bestuur. Hoewel die kortkursusse sterk op onafhanklike skole gerig is, sal openbare skole ook baat daarby vind. Belangstellendes kan oor die aanbieding daarvan navraag doen. Met inagneming van praktiese sake word die kursusse sover moontlik in Pretoria en omgewing aangebied, maar indien daar genoegsame aanvraag is, kan dit ook verder weg aangebied word. Belangstellendes kan navraag doen by Nicoleen by telefoon 012-644-2894 en e-pos navrae@pacvho.org.za. | | 'n Kortkursus vir kassiers van kerke is op 20 en 27 Augustus te Verwoerdburg aangebied. Twee geoktrooieerde rekenmeesters het die tegniese aanbiedings behartig. Die kwota van 10 deelnemers is oorskry en daar is reeds verskeie navrae oor 'n herhaling van die kortkursus. Ook in hierdie geval is Pretoria en omgewing die eerste markgebied. Indien daar genoeg deelnemers is om die koste te regverdig, kan dit egter ook elders aangebied word. Hierby word gedink aan meerdere kerklike ressorte soos klassisse en ringe. Belangstellendes kan navraag doen by Nicoleen by telefoon 012-644-2894 en e-pos navrae@pacvho.org.za. | | Kerkkassiers is meestal onbetaalde vrywilligers wat dikwels geen rekeningkundige opleiding en agtergrond het nie maar nogtans met groot ywer en toewyding die taak verrig. Die profiel van die 13 deelnemers aan die eerste kortkursus bevestig hierdie neiging. Dit toon dat slegs drie formele naskoolse opleiding in rekeningkunde gehad het terwyl een oor ervaringsagtergrond beskik. Nog twee het rekeningkunde op hoërskool gehad. Die ander sewe verrig hulle dienste met groot ywer en goeie gevolg. Almal het egter by die aanbieding gebaat omdat kerkfinansies heelwat anders as sakefinansies daar uitsien. 'n Versoek om 'n deurlopende opvolgkursus van tegniese aard het uit die geledere van die deelnemers gekom en aandag word daaraan gegee om so gou moontlik daarmee te begin. Dit sal op die bybring van die grondslae van praktiese rekeningkunde gerig word. | | 4. Mikro-hofsaak | | Op 27 Junie 2005 het die stryd om die taalbeleid van die Laerskool Mikro opslae gemaak toe daar finaal daaroor beslis is. Die appélhof in Bloemfontein het beslis dat die Wes-Kaapse minister van onderwys, mnr. Cameron Dugmore, en die Wes-Kaapse onderwysdepartement heeltemal buite hul bevoegdheid opgetree het met hul opdrag dat Mikro die 21 kinders wie se ouers hulle in Engels wou laat onderrig, tot die Afrikaanstalige skool moes toelaat. Die kersie op die koek was die hof se kostebevel teen die departement; wat dui op die hof se afkeur van die partye se optrede. | | Die Mikro-hofsaak het grotendeels gegaan oor die Suid-Afrikaanse Skolewet van 1996 se bepalings oor die magte van skoolbeheerliggame met betrekking tot taalbeleid. Die kinders het wel die reg gehad om in Engels in 'n staatskool onderwys te ontvang, maar nie in enige staatskool nie. Professor Andreas van Wyk, voorheen professor in handelsreg en oudrektor van die Universiteit van Stellenbosch, som die gevolg op: Gelukkig het die Mikro-saak heelwat meer duidelikheid gebring oor die streep wat ook die staat nie mag oorskry nie. Maar helaas, nog is het het einde niet. | | 5. Die omstrede wysigingswetsontwerp op Onderwyswette | | Die twis oor die wysigingswetsontwerp op die Suid-Afrikaanse Skolewet van 1996 is nog lank nie besleg nie. Daar word steeds wyd en syd daaroor gedebatteer, geredeneer en geskryf. Opposisiepartye debatteer dit gedurig in die parlement, terwyl private samesprekings met die minister van onderwys op verskeie geleenthede deur verskillende belangegroepe, van politieke partye tot die FAK, reeds plaasgevind het. Die Vrystaatse Skoolhoofdevereniging het op 12 Augustus op hulle byeenkoms hul kommer uitgespreek: As dié wysingswetsontwerp deur die parlement aanvaar word, kan Suid-Afrikaners net sowel gehalte, bekwaamheid en vermoë in sy skole vaarwel toeroep. Die debat het 'n spits bereik op 30 Augustus toe 'n hewige kopstampery tussen Helen Zille (DA-LP) en Duncan Hindle, direkteur-generaal van onderwys, plaasgevind het. Zille het uitgewys dat ras en verteenwoordiging as maatstaf gestel word en dat dit niks met die bevordering van gehalte-onderrig te doen het nie. Die vakbond Sadou steun natuurlik die wysigings en beskou dit as 'n teenvoeter vir wat hulle beskou as 'n tweevlak-onderwysstelsel in staatskole (met voormalige model C-skole op een vlak en die res op 'n ander). Die Federasie van Suid-Afrikaanse Skoolbeheerliggame (Fedsas) meen weer dit maak ernstig inbreuk op ouers se reg om primêre seggenskap in hul kinders se opvoeding. Direk na sy aanstelling (aan die begin van Augustus) het Hindle egter in 'n onderhoud verklaar: Die departement het geen planne om die magte van skoolbeheerliggame (SBL'e) te stroop en dit aan skoolhoofde oor te dra nie. Ons is verbind tot demokratiese skoolbeheer en daar is geen rede tot paniek of kommer oor die SBL-kwessie nie. Inderdaad het hy dus vinnig geleer om saam met sy minister te praat en soos 'n gesoute politikus teenstrydige stellings te maak wat die publiek kan verwar. | | 'n Bemoedigende woordjie van Hindle was egter: ...dat 'n Afrikaanse skool wat ten volle benut word in vrede gelaat sal word. Hoe lank voor die teendeel van dié stelling ook bewys word?
| | 6. Onderwysbesteding | | In dieselfde onderhoud het Hindle bevestig dat die planne vir 'n eksterne eksamen en 'n sertifikaat aan die einde van gr. 9, soos dié vir gr. 12, vir eers op die lange baan geskuif is omdat dit die departement tussen R2- en R3-miljard per jaar sou kos. Naledi Pandor het in Augustus 2005 aangekondig dat die regering R12.5-miljoen bewillig het om onderwys in Suid-Afrika te verbeter. Die ekstra fondse gaan in die volgende finansiële jaar, oor 'n tydperk van 5 jaar, bestee word. Graeme Block, 'n onderwys-beleidsanalis van die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika, erken openlik in 'n artikel: Education crisis is a concern to all of us, dat drastiese aandag nodig is om onderwys in Suid-Afrika te red. Pandor het dit self ook by geleentheid op 11 Julie 2005, op die internasionale vergadering van skoolhoofde, erken: We have done very well at the policy and system level, but we are doing less well at implementation and practice. | | Miljoene rande word spandeer aan die implementering van die 2005-kurrikulum, wat volgens Pandor: op datum is, as voortgesette maatreël vir transformasie van die onderwysstelsel. Die departement van onderwys spandeer intussen R13-miljoen om 2 600 onderwysers in die nuwe wiskunde kurrikulum op te lei en R6-miljoen om 40 uur lange lesse in wiskundige geletterdheid vir onderwysers te skep wat vanaf November deur die SAUK uitgesaai sal word, aldus Penny Vinjevold, adjunk-direkteur-generaal van onderwys. Die samesteller, Aarnout Brombacher, verklaar dat die inhoud daarvan sal wees om praktiese dinge te leer, soos hoe om 'n selfoonkontrak en huurkooptransaksies te verstaan. In die vak lewensoriëntering sal leerlinge punte verdien vir twee ure per week se speletjies vir twee maande van die jaar. Hierdie speletjies kan selfs stokgevegte, klipgooi, jukskei, kunsaasvisvang en waterpolo insluit. Leerlinge sal verder ook verplig wees om betrokke te raak by gemeenskapsdiens, soos die DBV of Hospice, ten einde punte te verwerf.
| | Pandor het met die bekendmaking van hierdie uitgebreide besteding egter dadelik ook bygevoeg dat die geld hoofsaaklik aangewend sal word om die land se armste skole te bemagtig en dán om gehalte te verbeter. Die fundamentele vraagstukke wat in onderwys aangespreek moet word, is volgens haar: ongoing racism, an inadequate curriculum, failure in many of our schools, gender-based violence and educators who have not yet grasped the potential they have for promoting and entrencing a fundamental departure from the apartheid design of education. | | 7. Inheemse taalkwessie strek verder | | Dugmore van die Wes-Kaap kan skynbaar nou maar een maal nie die taalkwessie met rus laat nie. Afrika-tale gaan wel deel van die nuwe kurrikulum vorm, afhangende van die beskikbaarheid van onderwysers en leerlinge se belangstelling, maar hy het planne bekend gemaak om Xhosa 'n verpligte vak in die Wes-Kaap te maak. Hulle is reeds besig met handboeke en onderhandel met tersiêre instellings om binne die volgende paar jaar genoeg Xhosa-onderwysers beskikbaar te hê. | | 8. Onderwysersopleiding | | Die minister van onderwys het reeds in 2003 'n ministeriële komitee aangestel om onderwysersopleiding te ondersoek. Hierdie komitee het aan die einde van Julie 2005 hulle verslag aan Pandor oorhandig. Daar is bekend gemaak dat die verslag die struikelblokke in die weg van die transformasie van die onderwys uitlig en hoe dit oorkom kan word. Dit onderstreep die tekort aan goed gekwalifiseerde en toegewyde onderwysers; juis as gevolg van die huidige regering wat die beursskema vir opleiding van onderwysers afgeskaf het; en natuurlik die sluiting van onderwyskolleges. Daar is dus nie meer enige verband tussen die provinsiale onderwysdepartemente en die opname van onderwysstudente nie. | | 9. Strenger beheer oor Hoër Onderwys | | Die samesmeltings van instellings vir hoër onderwys is aan die begin van die jaar voltooi met die totstandkoming van die University of Johannesburg. Die volgende beheermaatreël is ingestel met die beperking van studente aan die verskillende kampusse. Die Raad van Universiteitshoofde (HESA - Higher Education SA) het onlangs heftig hierop gereageer by monde van hul voorsitter, Prof. Barney Pityana. Hy kritiseer eerstens die huidige regering se swak befondsing van hoër onderwys en wys dan daarop dat die beplanning van die groei (of dan die beperking) van universiteite gedoen is sonder die insette van HESA. Die hoofdoel van die beperkingsaksie word sterk bevraagteken; terwyl daar gedurende die vroeë 1990's juis aanmoediging was dat soveel as moontlik skoolverlaters by universiteite moes studeer. Die gehalte van hoër onderwys kan ook nie deur hierdie aksie verbeter word deur bloot aan te neem dat druipelinge daardeur verminder sal word nie. Hy beveel aan dat daar eerder aandag gegee moet word aan die gehalte van skoolonderrig, sodat die toetreders tot die universiteite beter toegerus is met gehalte onderrig. Laastens word daarop gewys dat Verdere Onderwys en Opleiding (FET - die vroeëre tegniese kolleges) eers beter ontwikkel moet word om aan skoolverlaters ander moontlikhede te bied vir loopbaanvoorbereiding, as om hulle bloot te probeer weghou van die universiteite. | | In reaksie op Afrikaanse studente wat onlangs op die Universiteitskampus van Pretoria Die Stem van Suid-Afrika op die kampus gesing het uit protes teen die weglating van Afrikaans as voertaal, het Prof. Jonathan Jansen na die pen gegryp en 'n sterk aanval geloots teen wat hy bestempel as die khaki-clad white men. Hy bepleit spoediger transformasie van die kampus, wegdoen met Afrikaans as voertaal, (in almal se eie belang) en selfs verandering van die universiteitswapen (wegdoen met die simboliese ossewa). Jansen bepleit die nastreef van akademiese kwaliteit as eerste prioriteit en dat studente op grond van akademiese prestasie en potensiaal alleenlik gekeur moet word sodat dat daar nie toegegee word aan politieke druk op die akademiese mandaat van die instelling nie. To attain this status, the university leadership has to overcome the problem of white guilt (towards black students) and racial timidity (towards black students). | | Intussen is die instelling van 'n universiteitstoelatingseksamen weer deur verskeie rolspelers geopper en later ontken. Duidelik is daar nog nie uitsluitsel daaroor nie. | | Die debat gaan steeds voort: Is onderwys in Suid-Afrika in 'n krisis? In 'n onlangse program van e-tv Judge for Yourself is die bevindinge bekend gemaak in 'n studie wat deur Research Surveys, 'n marknavorsingsmaatskappy, onder 2 000 volwassenes in alle metropolitaanse gebiede in die land gedoen is. 'n Bevinding van die studie is dat die standaarde van onderwys in die toekoms die potensiaal het om 'n bron van spanning tussen rassegroepe te word. In studies wat die maatskappy vroeër vanjaar gedoen het, is bevind dat die meeste Suid-Afrikaners (62%) toe gemeen het dat onderwys in 'n krisis is, terwyl drie uit vier Indiërs, wittes en bruin mense en vier uit 10 swartes gemeen het standaarde het gedaal. | | Groete | | Henry du Plessis | Opleidingsbestuurder | September 2005 | |