|
Pretoriase Akademie vir Christelik-Volkseie Hoër Onderwys Vereniging Ingelyf kragtens Artikel 21 van die Maatskappywet (Registrasienommer 2001/011539/08)
|

Nuusbrief 2 / November 2004
| Die jaar is feitlik verby. Vandag is dag 508 van 2004 en nog net 58 dae van hierdie jaar is oor. Dan begin ons met 'n nuwe jaar met nuwe uitdagings. Veral op die gebied van die onderwys sal die uitdagings beslis groter word en moet ons opnuut besef dat dit 'n totale aanslag teen Christelikheid en Afrikanerskap in Suid-Afrika gaan wees. Die uitlating dat "onderwys gekies is as die dryfveer van die voortgesette transformasie en hervorming in Suid-Afrika" (deur die huidige regering), moet inderdaad nie ligtelik opgeneem word nie. |
| 1. Matriekstandaarde Daar kan inderdaad met dr Ben van Tonder van die CVO saamgestem word: "As ons UMALUSI wil gebruik om ons eie kwaliteit te verseker, het ons elk geval klaar 'n reuse denkfout gemaak." SAFSERT, nou verander tot UMALUSI, is veronderstel om standaarde te handhaaf en hul beamptes huiwer ook nie om te verkondig dat hulle hoë standaarde handhaaf nie. Dit wil egter blyk asof die standaarde in die skoolonderwys onteenseglik verlaag is. |
| Die matriekulante in Limpopo moes verlede week 'n Bedryfsekonomie-vraestel skryf waarin die Afrikaanse vraestel 56 foute in 13 bladsye bevat het. Prof. Wannie Carstens, ondervoorsitter van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (Pansat) se nasionale taalliggaam vir Afrikaans som dit ten beste op: "Die amptenare wat hiervoor verantwoordelik is, behoort afgedank te word." Die growwe spelfoute ten spyt, is die taal egter so swak dat dit dubbelsinnig, onduidelik en soms niksseggend is. Duidelik sal mens graag wil sien hoe die memorandum van die vraestel lyk. |
| Die enigste afleiding (en ook die mees logiese) is dat 'n Suid-Afrikaanse matriek in die toekoms nie 'n aanduiding van standaard van geletterdheid sal wees nie. Leerders sal toelatingstoetse moet slaag om toegelaat te word tot 'n hoër opvoedkundige instelling; nie net vir die buiteland nie, maar ook in Suid-Afrika. Mens kan dan nie anders nie om te vra: Het UMALUSI dan nog enigsins nut? |
| 2. Private opleiding word bedreig Daar is teenstrydighede in die regulasies wat geskep is om private verskaffers van Hoër Onderwys te beheer, die Wet op Hoër Onderwys en die Suid-Afrikaase Kwalifikasieowerheid se toepassing daarvan. Selfs die vereniging vir private verskaffers van onderwys en opleiding (APPEDT) wys die regering nou openlik daarop en het hulleself bereid verklaar om die aangeleentheid in die hof te laat toets. Die onderwysdepartement het hulle amper ten gunste van so 'n stap uitgespreek deur hulle verklaring dat so 'n hofaansoek nie as vyandige optrede beskou sal word nie. Dit is dus duidelik dat selfs die onderwysdepartement uitklaring van die teenstrydighede verwelkom. Intussen moet die verskaffers van hoër onderwys binne die volgende 3 maande om herregistrasie aansoek doen, terwyl bykomende vereistes ingestel is waaraan hulle moet voldoen. Nie die onderwysdepartement of die arbeidswetgewing kan enige lig werp op die nuwe gesondheid- en veiligheidsregulasies, of wat bedoel word met "dat leerlinge/studente beskerm moet word teen moontlike bankkrotskap van verskaffers" nie. Voorts word vereis dat verskaffers 'n maatskappy moet registreer; selfs buitelandse universiteite moet hieraan voldoen om 'n kampus in Suid-Afrika oop te maak. Daar word voorts ook van nuwe verskaffers verwag om 12 maande voor hy met opleiding begin, aansoek te doen om registrasie (terwyl daar intussen inspeksies uitgevoer sal word om te bepaal of die verskaffer aan die nodige vereistes voldoen, soos om 'n volledig ingerigte biblioteek te hê en om in alle gevalle moet kan bewys dat hulle navorsing doen, ongeag die tipe opleiding wat hulle wil aanbied). 'n Groot beswaar teen die nuwe regulasies is onder andere ook dat verskaffers 18 maande voor die tyd vir goedkeuring by die departement moet aansoek doen om enige verandering aan hulle onderrigprogramme aan te bring. Die slotsom is dat private verskaffers van hoër onderwys deur oorregulering doodgedruk word. Is dit juis die plan? |
|   |
| 3. Bestuur van skole In terme van artikel 16(1) van die SA Skolwet, 1996 setel die regspersoon van 'n skool in die skool se beheerliggaam en is dit dus die struktuur wat die skool bestuur. Die beheerliggaam het onder andere die funksie om aanbevelings aan die Departement te doen oor die aanstelling van opvoeders. 'n Nuwe konsep-wetgewing wat beheerliggame van die mag ontneem is so pas in die Staatskoerant gepubliseer. Hiervolgens sal beheerliggame nou 'n lys van 5 kandidate aan die provinsiale onderwysdepartemente stuur vir aanstelling deur die hoof van die departement (LUR). Sou die LUR nie 'n aanstelling uit die beheerliggaam se lys wil doen nie, word 'n ander persoon tydelik aangestel. As die beheerliggaam nie binne 5 werksdae appél daarteen aanteken nie, word die aanstelling permanent gemaak. Die konsep-wetsontwerp maak verder daarvoor voorsiening dat die LUR vir Onderwys van 'n provinsie "oortollige" onderwysers kan herontplooi en oorplaas na vakante poste by ander skole as waar hulle aangestel is. Verskeie partye het reeds beswaar gemaak teen die wetsontwerp en kommentaar word tot 19 November aanvaar, voordat 'n finale besluit geneem sal word. |
| 4. Onderwysersopleiding Uit verskeie oorde word dit beklemtoon dat daar 'n behoefte bestaan vir opleiding van onderwysers. Die PA vir CVHO bied vanaf 2005 'n afrondingskursus op nagraadse vlak vir onderwysers aan. Die klem is dus duidelik op afronding van reeds opgeleide persone wat hulle kennis wil verbreed, onderwysers wat nie formele onderwys-afronding deurloop het nie en onderwysers wat uit die beroep was, nou wil terugkeer en 'n behoefte het om op die hoogte van nuwe ontwikkelings te kom. Met die toenemende druk op tuisskool-ouers, is daar spesiaal ook aandag gegee om hierdie teikengroep te akkomodeer. Verdere besonderhede in beskikbaar by ons kantore en op ons webtuiste. Ons verwelkom enige kommentaar of voorstelle en bied ook 'n inligtingsdiens oor Onderwys in Suid-Afrika. Doen gerus navraag indien u sekere inligting wil bekom. Besoek gerus ook ons webtuiste www.pacvho.org.za Groete Henry du Plessis Opleidingsbestuurder 3 November 2004 |