|
Pretoriase Akademie vir Christelik-Volkseie Hoër Onderwys Vereniging Ingelyf kragtens Artikel 21 van die Maatskappywet (Registrasienommer 2001/011539/08)
|

Nuusbrief 1/2005
| 'n Derde van die jaar is bykans weer verby. Dit woel steeds so op die gebied van onderwys dat daar inderdaad nog 'n "tsunami-golf van inligting" oor die vakgebied gespoel het. Dit is inderdaad so dat die hoeveelheid inligting mens byna verswelg. 1. Nagraadse Onderwysers-afrondingskursus (NOAK) Na 'n aantal reklame-besoeke aan skole en 'n reeks advertensies op Radio Pretoria het die eerste studente ingeskryf vir NOAK. Hulle is goed op dreef met hul studies. Die kursus word deur middel van afstandsonderrig aangebied en die studente is van so ver as Oudsthoorn afkomstig. Die eerste kwartaal is met welslae voltooi en eksamens sal gedurende die Julie-vakansie afgelê word. 2. Samesprekings vir die behoud van Afrikaanse Onderwys Die PA vir CVHO het in Februarie 2005 die aanvanklike beplanningsgesprek, onder voorsitterskap van die FAK, as waarnemers bygewoon. Die verslag van proff. Herman Giliomee, Chris Heese en Lawrie Schlemmer waarin die agteruitgang van Afrikaanse onderwys skerp toegelig is, het die basis vir die samesprekings gevorm. Daar is veral kommer uitgespreek omdat moedertaalonderrig nie in die praktyk gestalte kry nie; nieteenstaande die grondwetlike beskerming wat dit veronderstel is om te geniet. Dit is onomwonde gestel dat as "die Afrikaanse wêreld nie self vir sy onderwys gaan sorg nie, niemand anders dit vir ons gaan doen nie", terwyl die toedrag van sake nie langer aanvaar sal word nie waar Afrikaans geblameer word vir die regering se eie mislukking om gehalteonderwys en toegang vir almal te voorsien. Intussen het oudpres. F.W. de Klerk onafhanklik, maar aanvullend tot die veldtog toegetree. Die stelling is reeds op verskeie vlakke gemaak en word deur gesaghebbendes ondersteun, dat gesprekke met pres. Thabo Mbeki tot dusver maar min vrugte opgelewer het. Op 30 Maart 2005 het 'n verdere gesprek tussen afgevaardigdes en die minister van onderwys, Naledi Pandor plaasgevind. Daar is daarop gewys dat die Afrikaanse skole slegs 3% van die totale aantal skole uitmaak, maar "reeds vir etlike jare met bykans sistematiese reëlmaat onder druk geplaas word om van enkelmedium-onderrig na parallel- en dubbelmedium-onderrig oor te beweeg". 3. Mikro-hofsaak Die Kaapse hooggeregshof het egter die reg van Laerskool Mikro erken om met enkel-medium onderrig in Afrikaans voort te gaan. Die LUR en amptenary het toe weer voortgegaan om teen dié bevinding te appelleer. Die Wes-Kaapse premier Ebrahim Rasool en LUR vir onderwys, Cameron Dugmore, het daarna in openbare toesprake te velde getrek teen Mikro. Max du Preez lewer in Insig kommentaar hierop: "Die Afrikaanse taal het duidelik nie in die neuse van die meerderheid swart Suid-Afrikaners sy apartheidsgeurtjie verloor nie. Hulle meen steeds dat Afrikaans deur skole (en 'n universiteit) gebruik word om swart kinders uit te hou". Hy bespiegel oor die Mikro-appélsaak en bepleit dat meer hoërskole parallel-medium skole moet word. Mens kan dan wel vra: "Grens dit nie aan haatspraak teen die Afrikaner nie; en dit nog in Afrikaans?" Tim du Plessis het hom by Du Preez geskaar en aangevoer dat daar nie 'n krisis in Afrikaanse onderwys is nie. Ironies genoeg, gebruik hy juis proff. Giliomee, Heese en Schlemmer se verslae waar hulle aantoon dat min Afrikaanse ouers bekommerd is oor die agteruitgang van Afrikaanse onderwys. 'n Argument wat hulle juis aanvoer om te vra "Wanneer gaan die Afrikaner dan eendag wakker skrik?". 'n Nuttelose inset van dr Mongezi Guma in die verband het die land verstom. As voorsitter van die "Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe" het hy die volgende voorgestel: "Tolkdienste in die klaskamer of lesingsaal is 'n moontlike oplossing waardeur jy op 'n individuele grondslag wat die onderwyser of dosent sê, onmiddellik kan vertaal. Dit is 'n stap wat ook werk vir tolke kan skep. Op dié manier kan voorkom word dat 'n hele klas Afrikaanssprekendes gedwing word om in Engels met mekaar te kommunikeer ter wille van enkeles wat nie afrikaans verstaan nie. Of omgekeerd, natuurlik". (Geen kommentaar). Die skooltaalgeveg word op 23 Mei 2005 voor vyf senior regters van die appélhof voortgesit. Uitspraak op die betoog word teen middel Junie verwag. 4. Inheemse taalkwessie strek verder Die hele kwessie rondom inheemse taalgebruik in onderwys strek egter verder. Prof. Vic Webb, Direkteur, Sentrum vir Navorsing in Taalpolitiek, Universiteit van Pretoria het hom as volg uitgespreek oor inheemse taalgebruik: "Die sprekers van hierdie tale ervaar nie 'n dwingende behoefte om hul eie tale te bevorder nie, en hierdie tale het 'n mindere simboliese gewig". Dus lyk die opwaardering van die Afrikatale na 'n onuitvoerbare opdrag. Pandor het op die vergadering van onderwysministers in Februarie 2005 aangetoon dat die kwessie ondersoek gaan word dat matriekleerlinge hulle eksamens in hulle moedertale wil skryf. Sy het egter dadelik bygevoeg dat dit nie 'n waarborg is dat dit geïmplementeer gaan word nie. 'n Verslag van kundiges is in Maart vanjaar aan haar oorhandig; dog tot dusver het sy nog geen kommentaar daaroor gegee nie. 5. Einde van hoër- en standaardgraad Daar was reeds verlede jaar sprake dat daar 'n einde gemaak gaan word aan hoër en standaardgraad in skole; met die teikendatum van 2007 wat toe gestel is. In Februarie vanjaar het Pandor weer laat blyk dat sy nie differensiasie in matriekvakke voorstaan nie. Daarom is daar reeds vakke soos Wiskundegeletterdheid en Wetenskapgeletterdheid ingestel en word dit reeds in sekere staatskole aangebied. "Ek sal toesien dat 'n vak soos Wiskundegeletterdheid nie 'n doodloopstraat word nie," het Pandor onderneem. Dié vak is dan veronderstel om leerlinge met genoeg kennis toe te rus om studierigtings soos maatskaplike werk, waar statistieke verwerk moet word, te volg. 6. Verdere verpolitisering van onderwys Die onderwys het "the vehicle for transformation" geword. Dit gaan dus al hoe meer oor poltiek en al hoe minder oor gehalte onderwys wanneer daar oor onderwyssake besin word. Pandor sê in Maart 2005 by 'n amptelike seremonie: "Our democratic revolution and our modern programme for transformation of our society would be meaningless if we believed that schools were not institutions of transformation. The school is and should be the focus of education change strategies". Sy werp by dieselfde geleentheid lig op die omstrede wetsontwerp (Education Laws Amendment Act, 2004) waardeur hulle die magte van beheerliggame verder wil inperk, wanneer sy verklaar: "These powers have given SGBs (school governing bodies) the ability to seriously frustrate our efforts to implement transformation....... we should move toward some sort of clustering of governing bodies...". Sy gaan verder oor beskikbare hulpbronne: "We need to share resources, we need to share .... using resource allocation determined by equity". Wanneer daar in Mei vanjaar in die parlement oor die wetsontwerp gestem gaan word, wat onder andere die magte van beheerliggame ernstig sal inkort, kan daar verwag word dat die minister haar min gaan steur aan die kritiek en reaksies wat dit ontlok het, maar die wetsontwerp gaan probeer deurvoer "ter wille van transformation". 7. Universiteitswese Daar is voorheen breedvoerig oor die chaos in die universiteitswese in Suid-Afrika berig. In 'n ope brief van die rektor van UNISA, prof. Barney Pityana, aan President Thabo Mbeki (6 April 2005), stel hy dit onomwonde: "In fact, Mr President, higher education policy in our country is in a mess". Pityana het hom reeds in Februarie ook uitgespreek teen die huidige universiteitstelsel. Op die algemene konferensie van die Vereniging van Universiteite in Afrika het hy aangevoer dat die samesmelting van universiteite en technikons in die praktyk sinloos was en die plan 'n burokraties gedrewe skuif deur die voormalige minister van onderwys was. Hy stel dit in sy ope brief dat senior universiteitspersoneel direk deur die nasionale tesourie meegedeel is dat hoër onderwys nie vir die regering 'n prioriteit is nie. Naledi Pandor word ook oor die kole gehaal omdat sy teenstrydige stellings maak oor watter programme universiteite moet aanbied en dus voorskriftelik wil wees; sonder dat sy die wese van afstandsonderrig verstaan. Sedert die begin van die akademiese jaar was daar aanhoudend ernstige onrus op talle kampusse. Die diep spore van hierdie onrus sal egter lank onthou word, omder ander as gevolg die volgende uitlatings wat gepubliseer is:
Besoek gerus ook ons web-werf by www.pacvho.org.za . Groete Henry du Plessis Opleidingsbestuurder April 2005 |