|
Pretoriase Akademie vir Christelik-Volkseie Hoër Onderwys Vereniging Ingelyf kragtens Artikel 21 van die Maatskappywet (Registrasienommer 2001/011539/08)
|

Noodsaaklike Vrye Instelling vir Hoër Onderwys
| Die studentebetogings in die derde week van Februarie 2005 vereis noodwendige en noodsaaklike besinning. Die afgelope paar weke het verskeie artikels en ontledings van deskundiges in koerante en tydskrifte verskyn wat duidelik gemaak het hoe ernstig die krisis in die onderwys is. Waar die debat voorheen hoofsaaklik op die skoolvlak gerig was, het dit eensklaps na die hoëronderwysvlak verskuif. Ondersoeke het onder meer bevind dat onderrig en navorsing ernstig bedreig word weens 'n tekort aan geld. Die veelgeprysde samevoeging van kampusse kom al meer onder skoot omdat van die kampusbesture wesenlik die onmoontlike verwag word. In 'n koerantartikel word gestel dat daar in 2000 reeds hoogstens ses instellings was wat op die status van universiteit kon aanspraak maak. Die onluste in Februarie bevestig die onmoontlikheid van die toestand. Die ineenstorting van hoër onderwys is nie toevallig of aan omstandighede te wyte nie. Dit is die uitkoms van 'n doelbewuste en doelgerigte beleid wat die afgelope tien jaar gevolg word om alles omver te gooi en met nuwe strukture en voorkoms en inhoud te beklee. Die ANC-SAKP-regime het in 2004 verklaar dat onderwys as speerpunt van hulle beleid van voortgesette rewolusie onder die naam van transformasie aangemerk is. Vanuit hulle oogpunt is dit 'n vanselfsprekende keuse. Tagtig jaar gelede het die destydse Kommunistiese rewolusieleiers in Rusland verklaar: Gee ons een geslag kinders en ons vernietig die kerk. Vandag verklaar woordvoerders van die regime op landsvlak en provinsiale vlak openlik dat die staat die reg opeis om alle kinders volgens sy ideologiese en metodologiese sieninge op te voed en dat ouers hulle daarmee moet versoen. Die lewens- en wêreldbeskoulike vryheid wat 'n kernsaak vir elke universiteit is, word so weggeneem en instellings word verplig om hulle aan die rewolusionêre ingesteldheid te onderwerp. Aanvanklik is die ideologiese debat hoofsaaklik oor laer en middelbare onderwys gevoer. Hoër onderwys is egter stilweg getransformeer of duideliker gesê aan 'n proses van struktuurtransformasie onderwerp. Die uitkoms daarvan is vandag sigbaar. Die selfstandige universiteite en tegnikons van tien jaar gelede is van hulle selfstandigheid ontneem deur die vorige minister van onderwys prof Kader Asmal wat in 2002 by wyse van 'n enkele artikel in een enkele wysigingswet op hoër onderwys die private wette van alle universiteite en tegnikons gekanselleer het. Daarmee is hulle status verander van selfstandige instellings met volledig outonome beheerstrukture tot kampusse van een enkele staatsinstelling onder beheer van statutêre liggame. Voorheen het elke instelling self besluit watter kursusse hy aanbied, hoe daardie kursusse saamgestel word, die inhoud van vakaanbiedings en die onderliggende grondslag van die opleiding. Die Afrikaanse universiteite was in meerdere of mindere mate calvinisties-christelik. Hoewel al die universiteite gelyknamige graadkursusse aangebied het, het die inhoud en beklemtoning verskil. So het 'n B Com-graad van die PU vir CHO wat vaksamestelling en vakinhoud betref van 'n B Com-graad van UP verskil. Ook het elke instelling sy eie spesialiseringskursusse aangebied. Omdat hulle in sekere sin met mekaar moes meeding, was almal verplig om hoë standaarde te handhaaf om te verseker dat hulle afstuderendes 'n staanplek in die mark sou vind. Erkenning deur die mark was die deurslaggewende faktor wat struktuur, vakinhoud en spesialisering bepaal het. Die destydse Komitee van Universiteitshoofde en die Komitee van Tegnikonhoofde het slegs 'n matige koördinerings- en adviesfunksie gehad, maar kon hoegenaamd nie aan die selfstandige instellings voorskryf nie. Sedert die Wet op Hoër Onderwys van die rewolusionêre regime in Desember 1996 ingestel is, het die toestand geheel en al verander. Van elke kampus word vandag vereis om sy kursusse aan die beoordeling van statutêre liggame te onderwerp. Namate dié liggame ervaring opgedoen het met 'n stelsel wat uitdruklik op die ideologie van sentrale (Kommunistiese) beheer geskoei is, is die skroef aangedraai totdat Asmal in 2002 die selfstandigheid van die universiteite wetlik-opgehef het. Tans mag geen instelling 'n erkende graad of diploma saamstel en aanbied sonder goedkeuring van die Departement nie. Dit geld die struktuur van kursusse en ook die inhoud van vakaanbiedinge. Die rade van die kampusse is tans weinig meer as uitvoerders van opdragte van die Departement Onderwys en is wesenlik weinig meer as administratiewe komitees sonder die bevoegdheid om selfstandige besluite oor die beleid en inrigting van hulle instellings en aanbiedings te kan neem. Die kampusse van die gewese universiteite is gevolglik vandag almal kampusse van een universiteit wat deur die Departement beheer word. Prof Kader Asmal het in April 2004 onomwonde verklaar: Hoër onderwys sal voortaan volgens die beginsels van Karl Marx gestruktureer en aangebied word. Prof Jonathan Jansen van die Fakulteit Opvoedkunde aan UP, het onomwonde aan 'n afvaardiging van die Tuisskoolbeweging bevestig: Stuur julle kinders hierheen en na vier jaar sal hulle nie meer Christene en Afrikaners wees nie. Die krisis in hoër onderwys het geleidelik ontwikkel tot die huidige toestand. In Mei 2004 was daar die MBA-fiasko in Mei 2004 toe die Departement slegs 'n klein getal MBA-kursusse goedgekeur het. Onder meer is die aanbiedinge van drie buitelandse instellings afgekeur, wat nie net binnelands nie, maar ook buitelands groot onsteltenis veroorsaak en tot die summiere onttrekking van twee buitelandse instellings gelei het. Dit het die vertroue in die stelsel vernietig. Dat erkende akademici soos proff Flip Smit, Herman Gilliomee en Lawrence Schlemmer onlangs wesenlik erken het dat hoër onderwys ineengetuimel het, is veelseggend, veral omdat hulle voorheen betreklik neutraal teenoor die transformasie gestaan het. Die wegneem van die lewens- en wêreldbeskoulike vryheid raak uiteraard alle vorme van Christelikheid en bepaaldelik die calvinistiese inslag van die Afrikaner. Dit raak egter ook sy kulturele eienskappe en bepaaldelik sy taal. Daar is geen enkele kampus van die een-universiteit waar Afrikaans die enigste en selfs die oorheersende gebruikstaal is nie, nie in die klaskamer nie en ook nie in die administrasie nie. Teen die bostaande agtergrond en met inagneming van die gelowige Afrikaner se plek in die samelewing van vandag en veral met sy toekoms in gedagte, is dit sekerlik nie te veel gesë dat daadwerklike, daadkragtige optrede dringend noodsaaklik geword het nie. Die keuse is eenvoudig: Swig voor rewolusionêre onderdrukking wat noodwendig op ondergang moet uitloop, of die daarstelling van 'n eie weg wat aan die gelowige Afrikaner 'n eie stelsel van onderwys sal gee met eie onderwysinstellings. Op skoolvlak word daar al vyftien jaar lank goeie werk gedoen, hoewel die resultate nog klein is. Op hoëronderwysvlak is die vereiste van 'n vrye Afrikaneruniversiteit op Christelike grondslag onontkombaar. Die Pretoriase Akademie vir Christelik-volkseie Hoër Onderwys is met hierdie doel opgerig en ontwikkel. Die taak word aangepak onder die vaandel: Knegte van die Allerhoogste, teen die hele wêreld vry. Dit is 'n reusagtige, byna onbegonne taak, maar nogtans 'n onontwykbare taak. Dit is die nastrewing van 'n ideaal. Dit is veral die nakoming van 'n roeping ter wille van die opkomende geslagte. Daarom is dit 'n taak wat in die geloof en net in die geloof aangepak kan word. Soos die Psalmdigter sê: Met U loop ek 'n bende storm, en met my God spring ek oor 'n muur. Dan geld die geloofsuitspraak van Nehemia: Die God van die hemel, Hy sal ons dit laat geluk. DR P E VAN DER DUSSEN Februarie 2005 Met erkenning aan Die Kerkpad, Maart 2005 |